VERSORGINGS STRUKTURE

GODDELIKE_SORGSTRUKTURE

1.  Skrifkonteks as Agtergrond

Lees: Ef. 4:11-16; 5:18-6:4.

Heb. 10:24: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;”

1.1.  Skeppingsdoel met die mens

Toe God die eerste mens gemaak het, het Hy hom geskape as `n materiële wese, met `n liggaam; As `n geestelike wese, met `n lewende siel; As `n morele wese, kon verantwoordelike keuses uitoefen; As `n werkende wese, uit die sweet van sy aangesig sal hy sy brood eet; As `n sosiale wese, staan in verhoudings tot ander geskapenes.  Dit is veral hierdie laaste aspek wat ons by wil stilstaan.

1.2.  Daarstelling van Sorgstrukture

Die mens is nie geskape om alleen te wees nie, maar hy vind vervulling in verhoudings tot en met andere. God het bedoel dat elke mens binne `n struktuur sal leef, `n ondersteuningstruktuur, om die mens die beste geleentheid te bied tot optimale funksionering en geluk.  Daarom het Hy opgemerk nadat Hy Adam geskape het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.  Ek sal vir hom `n hulp maak wat by hom pas.” (Gen. 2:18).  Want, sê vers 20, die mens het aan al die diere en voëls name gegee, “maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.”  Daarom het God Eva gemaak, en Adam merk op: “eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.” (v. 23).

Binne hierdie eerste en kleinste sosiale eenheid het God dit goed gedink om kinders te gee, om die huwelik tot gesin te vergroot, sodat kinders ook nie eensaam sal wees nie, maar deel van `n groter sosiale eenheid wat as groei ruimte sou dien.  Soos die gesinne uitgebrei het, het dit eindelik tot volk, ook as groeiruimte, ontwikkel.  In Nuwe Testamentiese konteks is die gemeente die breër struktuur vir sorg, of groeiruimte.  Hierdie gemeentelike struktuur is steeds saamgestel uit gesinne, en is deel van die sorgstruktuur.

1.3.  Gesagstruktuur/Leierskapstruktuur

Binne elke struktuur het God gesagsfigure/leierskap gestel, ampte, gawes, deur persone verantwoordelikheid vir die groep te laat neem.  Dinge gebeur nie vanself nie en sonder dat iemand leiding neem nie.  Dit is waarvoor daar vaderskap en herderskap is.  God se primêre doel met enige leier is dat hy `n verkwikking moet wees vir die wat hy lei.  Hy is verantwoordelik dat elke siel `n ruimte sal hê waarin hy/sy kan groei en ontwikkel.  Ps. 72:6 lees ons die volgende met betrekking tot `n koning wat in geregtigheid regeer: “Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie – ‘n swaar reën op die aarde.”  Ook Ps. 78:71-72 sê van Dawid dat God hom agter lammerooie gaan weghaal het: “om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel.  En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande”.

Ons hoef nie terug te deins om van `n gesagstruktuur te praat in die moderne anti-gesag-samelewing nie.  Gesag het in wese nie die negatiewe konnotasie wat dit die afgelope twee eeue verkry het nie.  In die eerste plek moet dit natuurlik altyd met God verbind word, anders het dit die potensiaal tot gaos. Eerstens het die mens afgeleide gesag en kan hy dus nie onafhanklik of eiesinnig handel of oor ander beskik nie.  Dit dra pertinent die aspek van rentmeesterskap, waarin die gesagdraer altyd rekenskap moet doen, veral teenoor God. Tweedens is die begrip outoriteit afgelei van die Latynse woord “auctor”, afkomstig van die werkwoord “augeo” wat “vermeerder”, “laat groei” beteken (Janson 1996:146)[1]. Iemand met gesag en outoriteit is dus verantwoordelik om die ander se groei tot volwassenheid nie te verhinder nie maar te bevorder!  Dit vorm `n radikale kontras van wat so dikwels in aardse gesag gesien word, naamlik dat dit mense verkneg.  Geen wonder dat die mens dit wou afgooi waar dit misbruik is nie.  Die mag wat die mens vir homself toeëien is nooit bevrydend nie, maar altyd verslawend.

Daarom het God ook nooit take of verantwoordelikheid toegedeel sonder om leierskap aan te wys nie (vgl. Tabernakel).

1.3.1.  Leierskap in Gemeentelike Konteks

In die gemeente is dit die ampte (Predikant en ouderlinge). Die predikant is die herder van die kudde en staan onder opdrag en opsig van Christus, die Opperherder van die skape.  Sedert die levitiese tradisie reeds is sy grootste taak om die kudde te voed, om hulle te lei na groen weivelde en na waters waar rus is.  Tesame daarmee het hy die verantwoordelikheid om na hulle om te sien, om opsig oor hulle uit te oefen – om hulle te versorg.  Dwang is dus nie ter sprake nie.

Wanneer hulle meer word as wat hy effektief kan behartig, voorsien die Skrif hulp in die vorm van ouderlinge.  Hulle word soos `n verlengarm vir die leraar om in kleiner, meer hanteerbare groepe, die kudde te versorg, om oor hulle te waak tot heil.  Wanneer die wyksgroepe te groot word om effektief te versorg, behoort dit verder onder te verdeel, suiwer met die doel dat geen enkele lid onversorg of swak versorg gelaat word nie.  Daar moet sorgsame, omgee, opmerksame leierskap wees wat vir elke enkele siel in die kudde verantwoordelikheid aanvaar.  Daar moet iemand wees wat `n lidmaat weet, daardie persoon dra my op die hart!

1.3.2.  Leierskap in Gesins- en huwelikskonteks

In die huwelik is dit die man, God is self die hoof van Christus en Christus weer van die man.  In I Kor. 11:3 lees ons: “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus is.”  Christus staan onder God se wil en voer sy wil uit en die man staan onder Christus en voer sý wil uit, alles tot heil van die in sy sorg, eerstens sy vrou en dan gesamentlik vir die res van die gesin.

In die gesin is dit dus die egpaar wat leiding neem.  Die man is verantwoordelik aan God in Christus vir die goeie ordening, leiding en versorging, kortom vir die bestuur van sy gesin.  Sy huis moet georden word volgens en daar moet gelewe word volgens die Woord van God.  Hulle geestelike, emosionele en tydelike versorging is primêr sy verantwoordelikheid.

Die vrou is gegee as hulp vir die man en aanvaar mede-verantwoordelikheid vir die wyse waarop die huishouding behartig en die kinders versorg word.  Haar gesag is ondergeskik aan die van haar man, soos sy gesag weer ondergeskik aan Christus is.  Sy is as hulp, ondersteuning, spanmaat vir haar man in hierdie omvangryke verantwoordelikheid gegee, omdat `n man op sy beste nie in staat is om hierdie verantwoordelikheid uit te voer nie.  Sy het as’t ware dan uitvoerende gesag en is verantwoordelik dat hierdie sorgende leiding vanuit Christus onder sy opsig en leiding deurgevoer word.  Sy vergestalt in die huishouding die liefde en sorg van God volgens die Woord.

Kinders verkeer dan in hierdie leefruimte vanuit Christus, onder die sorg van beide ouers. Die man en die vrou bestuur die gesin tot heil, beide in verantwoordelikheid aan God vir die kinders wat Hy in hulle sorg gegee het.  Die kinders se verantwoordelikheid is weer om hulle aan hierdie sorg en leiding te onderwerp in die Here.  God gee ouers aan kinders tot voordeel.  “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word …”. Bid vir jou ouers en moet dit nie vir hulle moeilik maak om jou tot heil te wees nie.

1.4.  Disfunksionaliteit van hierdie strukture

Die realiteit waarmee ons vandag sit is egter ver van hierdie ideale verwyderd. Op gemeentelike vlak sit die kerkraadslede net die kerkraadsbank vol (Sondagoggende) en woon vergaderings by.  Bitter min weet en nog minder word toegerus om sorgsame verantwoordelikheid van lede op hul te neem en betrokke te raak by die groei en ontwikkeling van lidmate.  So gaan gemeentes mank aan sorg en kan hulle nie groei nie omdat lidmate, naas ondervoeding, ook soos verwaarloosde straatkinders lewe.  Ook wat gesinne en huwelike betref, gaan dit alles behalwe volgens die plan en doel van God.  Enige verandering van God se plan bring misvorming mee.  Ten spyte van hierdie goddelike heilsdoel en al sy voorsiening dat die mens so gelukkig en geseënd as moontlik kan wees, is dit te dikwels nie so nie.

Ons leef in `n gebroke wêreld. Daar is baie smarte en verskeurdheid in die mensdom.  Die Verwoester, die duiwel, het gesien wat God gemaak het en die doel daarmee, daarom werp hy alles in die stryd om dit te verydel.  Daarom lyk dit vandag in baie gevalle eerder of die strukture en die leierskap daarvan mense vernietig as dat dit ondersteunend is.  Die sondeval het die weg vir die Verwoester geopen om al die goeie wat God wil, grootliks te kaap tot nadeel van die mens.  Baie huwelike is nader aan die hel as die hemel, talle gesinne verbrokkel en die res is eerder ongelukkig as gelukkig.  In stede van `n voorsmaak van die hemel is dit voorportale van die hel.  So ook met talle gemeentes, in stede van ruimtes te wees waar mense geestelik groei en gedy, is dit ruimtes waar twis en tweedrag en verwaarlosing heers.

Die grootste oorsaak hiervoor is omdat kennis van die Woord verskraal het. Gevolglik weet mense nie meer hoe en wat nie.  Baie mense ploeter van dag tot dag voort, week in en week uit, maand in en maand uit, sonder enige vreugde of blydskap op hierdie aarde.  Hulle strompel van een krisis na die volgende met slegs `n kort wapenstilstand tussen-in, hulle ken nie vrede en rus nie.  Dit is of die duiwel daarin geslaag het om alle sorgstrukture nek om te draai en leierskap te elimineer en kragteloos en oneffektief te maak.

Tog is dit nie nodig nie. Ons het `n keuse in die saak, ons is ook as morele wesens geskape.  Ons kan òf leef volgens die Woord in die krag van die Versoening, òf ons kan toelaat dat die duiwel ons beroof van alles wat God vir ons daargestel het in Christus.  Die onus rus primêr op leierskap om hierdie situasie om te keer.  Daar is hoop vir u in elkeen van hierdie strukture!

Ons wil ons tot hierdie drie verhoudingstrukture waarin die mens bestaan beperk, naamlik die gemeente (met die predikant, ouderling en leierskap), die gesin (met die egpaar) en die huwelik (met die man en vrou). Ons gaan elk van hierdie aspekte breedvoeriger aansny en ons ook meer bepaal by die gesag of leierskap in die strukture, en u daarmee uitdaag:  “Gee ag op mekaar om tot liefde aan te spoor.”

Kom ons begin op die breedste vlak.

2.  Die gemeente

Lees: I Pet. 5:1-9; Hand. 20:26-32.

I Pet. 5:2-4: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, …” Hand.20:28.

Elke mens het `n breër struktuur nodig as huwelik en gesin. Daarom wil die Heer steeds dat mense gereeld in sy teenwoordigheid in `n sorgstruktuur sal wees, Hy wil daar sy seën gebied.  Ps. 133 vertel daarvan.  Dit is nie iets wat uit tyd geraak het en vervang kan word nie.  Dit is `n basiese behoefte van die mens oor alle eeue heen.  Dit is vandag nog so.  (Dit gaan egter nie daaroor om vermaak te word nie, ook nie `n selfgerigtheid in sodanige byeenkomstes nie).

Die moderne verstedelikte mens is uiters vereensaam. Hulle honger en smag na `n sorgkonteks.  Dit is waarom mense al meer bedruk raak.  Hoor onlangs dat dit gereken word dat die jaar 2004 die jaar van depressie gaan wees, soos in epidemiese afmetings.  `n Pastorale sielkundige het baie jare gelede al geskryf dat wanneer `n mens hulp gaan soek by `n sielkundige, dit veronderstel dat die groep waarvan hy deel uitmaak, nie effektiewe sorg verskaf nie.  Elke mens het behoefte aan `n breër struktuur, en daarvoor is die gemeente daar.

2.1.  Wat is die Gemeente?

Ons leer `n paar basiese beginsels met betrekking tot die gemeente uit o.a. Hand. 20:28. Hier is ten minste vyf essensiële en primêre beginsels vir `n gesonde bediening tot `n vitale gemeente wat ons moet begryp.  Die eerste twee handel oor die kudde of gemeente, die ander drie oor die amp van die herders of opsieners in die kudde/gemeente.  Kennis van hierdie beginsels en behoorlike begrip daarvan, sowel as die ywerige toepassing daarvan in die bediening is `n voorvereiste vir `n lewende gemeente en bediening.  Misopvattings daaroor het baie smarte en ontevredenheid in menige gemeente tot gevolg gehad.  Ek wil ook graag hê dat u sal verstaan dat hierdie sake elke groep, groot of klein, in die gemeente raak.  Die gemeente, die wyke, kleiner groepe en elke gesin.  Ek vertrou dat die Here hierdie sake in u gemoed gaan inbrand op so `n wyse dat dit u sal bybly totdat Hy kom.  Let ook op dat dit nie net vir die ampte geld nie, maar vir elke een (I Pet. 5:5, 6).

2.1.1.  Die gemeente is `n kudde

Dit beteken letterlik skape, en metafories volgelinge van Christus volgens Joh. 10:16.  Hulle is volgelinge van Christus, wat deur die Heilige Gees in ons sorg geplaas het.  Hulle is dus nie die herder se volgelinge nie, dus ook nie bloot `n bron van vleis en wol vir die herder nie.

Hier in Hand. 20:28 word die verkleinwoord gebruik wat dui op `n groep plaaslike gemeentes waarna omgesien word deur ouderlinge. Dit sluit elke klein gemeentetjie in, tot die kleinste groepie.

Die taak is om hulle te begelei, om hulle voor te gaan in navolging van Christus. Ons het in Ps. 78 gelees dat Dawid hulle opgepas het na die opregtheid van sy hart en hulle gelei het met die verstandige oorleg van sy hande.  Salomo het die Here gevra om hom in staat te stel om sy volk in en uit te lei.  Petrus moes die skape en lammers van die Here laat wei.

2.1.2.  Gemeente is God se eiendom

Hulle behoort aan God, dit is `n gemeenskap wat bestaan uit belydende gelowiges.  Hulle is sy eiendom omdat Hy hulle nie net geskape het nie, maar ook gekoop het met die bloed van sy eie Seun.

Daarom kan ons eintlik nooit praat van “my” gemeente nie. Die kudde behoort nie aan my of aan die EG Kerk nie.  Die herder werk met God se eiendom, daarom moet ons versigtig werk.  Daarom kan ons hulle ook nie tel soos Dawid gedoen het sonder om die halfsikkel per persoon te vorder nie.  Die groei in die gemeente is nie my persoonlike toedoen of my persoonlike rykdom nie.  Vgl. Hand 2:47.

2.2.  Leierskap: Wie is verantwoordelik?

Dit is veral die predikant en die kerkraad wat hierdie verantwoordelikheid dra. Hand. 20:28 sê verder: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.” I Pet. 5:2-4: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.”  Dit is duidelik dat dit vir God `n ernstige saak is, soveel so dat daar in die lewe hierna beloning gaan wees vir die wat Hom gehoorsaam het hierin!

Elke gemeente het `n herder-leraar nodig vir hul versorging. Verder is daar ouderlinge nodig om die sorg uit te brei namate die groep uitbrei, daarna geestelike leiers en eindelik `n vader in elke gesin.  Dit gaan nie om baasskap nie, maar outoriteit in die sin van sorg verantwoordelikheid.  Elke leier het `n uitkringende verantwoordelikheid.

Daar is egter bitter min gemeentes waar die kerkraad `n opbouende, versorgende, dienslewerende verhouding met die lidmate het. Kerkraadslede het deesdae meer `n administratiewe rol as `n herdersrol.  Gemeentes word in ons dag dikwels bestuur soos sekulêre instansies waar dit gaan oor prestasies in plaas van `n “wees”-bestaan, `n sorg-/ groeistruktuur.  Lidmate word veel meer diensknegte van die kerk as wat hulle bedien word.  In baie gemeentes kla lidmate ook dat hulle net die dominee of kerkraad sien wanneer daar geld gevra word of steun vir `n projek of program wat geloods word.  Of hulle kla dat hulle die dominee te min of selfs nooit sien nie.

Maar kom ons kyk nou na ten minste drie take wat aan die herders opgedra is in Hand. 20:28.

2.2.1.  Drie Take aan Leierskap Opgedra

Hand. 20:28: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.”

2.2.1.1.  Opsig

“.. waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het ..”. Opsien het die gedagte van om na iets te kyk, om om te sien na.  Opsieners of ouderlinge dui op volwasse geestelike ervaring en ondersteuning.  Dit dui ook op die aard van die werk.  Volgens God se wil en aanstelling moes daar ouderlinge in elke plaaslike gemeente wees. Dit gaan nie om die opneem van `n posisie nie, maar om die uitvoering van die taak/pligte.  Dit gaan om dienslewering.  Christus het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.

`n Kerkraadslid behoort elke lid in sy wyk te ken, hulle behoeftes te ken, vir daardie groepie met ywer en toewyding in die gebed aan God op te dra en hulle te bedien met die wonderlike Woord van God, veral in lewensvoorbeeld. In Spr. 27:23 lees ons: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee;”  Hy sal sy tong gebruik soos Spr. 12:18 (b, nie a nie!) ons lees: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaard steke, maar die tong van die wyse is genesing.”

Elke lid behoort te ervaar dat hy/sy raakgesien word en `n plekkie in die gemeente het. In so `n konteks sal kinders van die Here opgroei om hul plek ook weer vol te staan.  In Ex. 18 was die volk moedeloos omdat Moses nie by almal se behoeftes kon uitkom nie.  Hulle is verwaarloos, hulle het gevoel hulle word oor die hoof gesien.  So ook in Hand. 6 is sommiges in die daaglikse versorging oor die hoof gesien.  Die opsieners is daar om dit op te merk en die bediening aan te pas, om “om te sien na”.

Persoonlike belange is sekondêr tot die wat in jou sorg geplaas is. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.  Volgens Ef. 5 het Christus Homself oorgegee vir die gemeente.  Elke predikant, ouderling, leier, vader behoort vir sy groep dieselfde te doen.

2.2.1.2.  Konstante Voeding

Hulle moes die gemeente van God versorg, voed.  Dit beteken om voedsel te verskaf, en soos in hierdie teksgedeelte, “consistent rendering”.  So ook in Joh. 21:15-17.  In die geestelike versorging van gods kinders is die voeding van die kudde vanuit die Woord van God die konstante en gewone noodsaaklikheid.  Dit is die belangrikste taak in die bediening.  Dit kan ook uitgebrei word tot omsien, lei.

Dit is dan ook so die taak van die leierskap in die gemeente vandag. Elke leier, van die predikant, die ouderling, geestelike leiers tot die pa van elke huis, dra hierdie verantwoordelikheid.  Daar moet konstant omgesien word na die voeding, gelei word na groen weivelde.  Dit impliseer dat die kudde na die Woordverkondiging en voedende gemeenskap gebring word, in die eredienste, kampe, konferensies en waar ook al.  Konstant, volhardend, vanuit die Woord.  Let op die bekende Ps. 23!

“Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.  Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.  Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.  U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.  Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”

2.2.1.3.  Om ag te gee

“Gee dan ag op julleself en die hele kudde.” Die oorspronklike begrip is om vas te hou aan, om te draai na, om jou aandag te bepaal tot.  Dieselfde word ook gebruik by die priesters in diens by die altaar (gave attendance at the altar) (Heb. 7:13).  Dit veronderstel toewyding van “thought and effort” aan `n saak.  As die byvoeglike naamwoord bygebring word, sê dit “sitting well beside”, “sitting constantly by and so applying oneself dilligently to”.  Waak en waaksaamheid, sorgsaamheid, ag gee, dit is die oorheersende begrippe.

Die bediening gebeur nie toevallig nie. Dit vra dat jy jou volle aandag gee, dat jy dit bepaal, ja rig op die wat aan jou sorg toevertrou is.  Jy kan nie jou kop wegdraai en anderkant toe kyk nie.  Dit is jóú verantwoordelikheid!  Jy kan nie onkunde pleit nie.  Jy kan nie verontskuldigend sê: “Is ek my broer se wagter?” nie.  Die gemeente moet konstant, waaksaam onder jou oë wees, nie as speurder of joernalis nie, maar as herder.  Al drie sien wat verkeerd is, wat skort, maar hanteer dit verskillend.  Die speurder trek vas en kla aan.  Die joernalis basuin dit uit aan die hele wêreld.  Die herder help uit, bou op, skep ruimte vir groei.  Dit verg inspanning om iets aan `n saak te doen.  Jy moet jouself getrou, permanent toewy “for better or for worse”.

Ons het te make met volgelinge van Christus, wat Hy met sy bloed gekoop het. Ons ampsaanstelling beteken dat ons omsien na hulle, hulle voed en ons lewens toewy aan hierdie taak.  Dit is die kerkraad se taak dat `n gemeente hierdie atmosfeer sal hê.

Die gemeente het die verantwoordelikheid om hulle aan hierdie sorgstruktuur te onderwerp en te bid vir die kerkraad en dominee tot hul eie heil en voordeel.  As ons weer kyk na Ef. 4, sien ons in vers 11 dat die Here ampte gegee het, vers 12 tot toerusting tot, vers 13 volwassenheid sodat hulle, vers 14 nie onstabiel sal wees nie.  Vers 15 gaan voort om te stel dat terwyl die Waarheid betrag word hulle opgroei in Hom.  Vers 16 sê voorts: “uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.”

Sal ons nie onsself by vernuwing aan God oorgee en onsself bereid verklaar om die groot Herder van die kudde se wil uit te voer. Vertrou jouself aan Hom toe om jou `n herder te maak soos Christus vir jou in gedagte het en nodig het.  Neem `n wilsbesluit om die res van jou lewe op aarde hierdie beginsels jou eie te maak en na te strewe en dit die riglyne vir jou bediening te maak deur sy genade en in staatstelling

3.  Die Gesin

Ef. 6:4

3.1.  Inleidend

Die gesin het basies dieselfde doel as die gemeente (met sy wyke). Dit gaan om dieselfde sorg, net meer intensief en in nouer konteks.  Die vader en moeder vorm saam `n verlengarm vir die gemeentelike sorg.  Ouers moet kanaal wees vir die sorg wat God aan hulle wil gee.

Kinders is aan u gegee om lief te hê, te beskerm. God het dit goedgedink, nodig geag dat `n kindjie nege maande voor geboorte reeds in die moederskoot die gesinskonteks betree.  Die gesin is dus `n reeds bekende omgewing na geboorte, waar die vader, veral die moeder en dan ook die ander kinders bekende figure is.  Dus behoort `n baba dan tuis en ontspanne te wees, sonder stres, en alle beskikbare energie vir groei en ontwikkeling te kan aanwend.

Hulle moet ervaar dat hulle opgemerk word, raakgesien word en begelei word op die lewensweg. Die ouers moet vir hulle `n veilige hawe (“den”) skep waar hulle tot rus kan kom.  Soos wat u behoeftes opmerk moet u daarop antwoord.  U moet raaksien wanneer hulle bedruk of belas is.  Hulle moet ook ontspan tuis, hulle moet nie daar ook aan prestasiedruk onderwerp word en wedywer om aanvaarding nie.  Die ouerpaar se verantwoordelikheid is dus om `n stabiele, liefdevolle, rustige groei- en leefruimte vir die kinders te skep.

Hulle moet begelei word in die blootstelling aan die toenemende lewenseise, ook in die proses van aanleer en ontwikkel van lewensvaardighede, soos om te kan werk en daarvan te hou.[2]  Spr. 10:4 sê: “Hy word arm wat met `n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.” Spr. 12:24: “Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid.” En vers 27b: “vlyt is `n kosbare skat vir `n mens.”  Hulle moet ook geleer word hoe om die aanslae en die druk van die lewe te hanteer in teenwoordigheid van die Here.  Die klem val egter op toerusting (nie prestasie nie) vir die lewe met sy toenemende verantwoordelikhede.  U sorg moet nooit deur hulle ervaar word as beloning op prestasie nie, maar ongeag prestasie.  U verskaf die ondersteuningsbasis tot prestasie, nie die terrein waar presteer word nie.

Onder die ouer se begeleidende sorg moet elkeen ervaar dat hy/sy mens is met `n eie unieke waarde, beide vir God en hulle ouers. Dit sal effektief verhinder dat hulle minderwaardig voel.  Hulle moet dus leer om nie minder van hulself te dink, maar ook nie meer van hulself te dink as wat hy/sy werklik is nie.  Hulle behoort onder u leiding vanuit Christus as gebalanseerde mense die lewe te betree.  So ontwikkel hulle `n gesonde menswaardigheid.

Hulle moet respek vir ander aanleer en vriendelikheid, die grondslag vir goeie maniere.  Ook dissipline aanleer, dit vorm hulle basis vir `n produktiewe en sinvolle bestaan uiteindelik.

3.2.  Geestelike Vorming

Die gesin is van vroeg af die plek waar God sy versoening wil openbaar. Met die paasfees, wat spreek van die volk se verlossing uit Egipte, sowel as van die verlossing in Christus, is daar ‘n lam per gesin voorgeskryf (Exodus 12:3).  Dat die Here Jesus belang het by kindersiele blyk duidelik uit Mat. 18:6 en Mark. 9:36.  Kyk na die woorde van hierdie twee versies:  “Maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see.” “En Hy neem ‘n kindjie en laat hom in hul midde staan en slaan sy arms om hom en sê vir hulle: Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.

Maar kom ons kyk na `n paar aspekte in hierdie konteks van geestelike vorming.

3.2.1.  Geloofsoordrag en -vorming

Ps. 78:1-8 sê vir ons dat die werke van God moet so oorgedra word aan ons kinders, dat elke volgende geslag die Here kan ken en in Hom kan glo. Hierdie is die belangrikste deel van die toerusting, dog daardie aspek wat dikwels die minste aandag in opvoeding geniet.  Dit is van die uiterste belang dat ‘n kind in die ouerhuis ‘n verhouding met Jesus betree en daardie verhouding ontwikkel.  Dit is die taak van die ouers vanuit die opdrag van die Here.  Jesus wil jou kind red.  Daar is geen beter terrein vir die redding van ‘n siel as die huisgesin nie.

Hoe vroeër hoe beter. Dit is by verre die beste dat die kind so vroeg as moontlik gered word, voor die stadium van meer rasioneel intellektuele denke.  In stede van twyfel vrae op hierdie stadium, kan dit benut word tot meerdere kennis van Jesus.  Volgens Luk. 18:15-17 blyk dit dat die intellek vir sommiges ‘n struikelblok kan wees by redding.  “…elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”  Die Here Jesus het gesê dat ‘n mens soos ‘n kindjie moet word om saligmakend te glo.  Die Heilige Gees is by magte om in ‘n baie klein kindjie te werk en te lei tot ‘n persoonlike ontmoeting en verhouding met Jesus.

Dit is daarom belangrik dat die teenwoordigheid van Jesus in die huis beoefen word. ‘n Gesonde gesinslewe is grootliks die vrug van ‘n gesonde verhouding met Jesus.  Die ouers se lewe voor die kinders is `n voorbeeldles rakende die verhouding met God, met mekaar, in die gemeente onderling en in die wêreld.  Let ook op Jes. 2:5 “Kom huis van Jakob, laat ons wandel in die lig van die Here”.

Ongelukkig is baie ouers so in hul beroeps- en sosiale lewe opgeneem en meegesleur dat daar nie tyd vir die kinders is nie. Talle mense het net nie meer tyd in hul sekulêre lewe om vir kinders in te ruim nie.  Talle moeders moet noodgedwonge werk en die kinders aan ander se genade of aan hulleself oorlaat.  hulle word verwaarloos, lê hulle op straat waar hul `n prooi word van wrede wolwe en kwaaddoeners.  Hulle moet baiemaal met geld tevrede wees in plaas van die aandag van die ouers.

Kinders word ook al minder. Die enkele kinders is dikwels dan meer van `n oorlas as `n vreugde.  Talle word in ons dag selfs in die gesinsopset mishandel en misbruik!  U sal balans tussen werk en huisgesin moet skep en perspektief op waardes – moenie u lewe omswoeg vir dit wat nie saamgaan hemel toe nie.  Ons lewenstaak is nie om geld te maak nie, maar o.a. eerder om kinders uit die hand van die Here ontvang, groot te maak vir die Here.

3.2.2.  Begelei die kind in ‘n lewe van geloof.

In die eerste plek in geloofservaring.  Kinders se probleem is nie ‘n gebrek aan geloof nie, maar ‘n gebrek aan ervaring.  Die ouer het daarom die taak om die kind te begelei tot die ervaring van die liefde van Jesus in die alledaagse lewe, om dit raak te sien en te aanvaar.  Geloof lei altyd tot ervaring.  Geloof in die Nuwe Testament is nie ‘n soeke na tekens nie, maar word in teendeel gevolg deur tekens.  Mark.16:17 sê dat vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg.  Sonder bevestigende ervarings, raak geloof koud, dood, formeel, wetties.

Vervolgens in gebede van geloof.  Kinders moet gelei word tot gebede van geloof wat ook spesifieke antwoorde verwag.  Moet nie terugdeins om die geloof-toetsende waters van gebed te betree nie.  Geloof is nie ‘n hoë bergvesting waarin ‘n mens konflikte en lewensprobleme ontvlug nie.  Dit is inteendeel juis die instrument waardeur dit beveg en oorwin word.  Gebed neem ons nie weg uit die lewensterrein uit nie, maar dit bring God in ons lewenservaring in.  Geloof word slegs gebou deur ontmoetings met Jesus.

Bereken en gehoorsaam Hom op alle lewensterreine. Lei hulle in toewyding aan die Heer.  (`n Algemene Godsbewussyn).  `n Liefde vir die Woord van God en stil word voor Hom in gebed is belangrik.  Hulle moet `n lewe van gemeenskap met God ontwikkel.  Hulle moet ook die gewoonte van persoonlike stiltetye met God ontwikkel.

Waak oor u kinders wat God aan u sorg toevertrou het. In Jes. 8:18 lees ons die volgende woorde: “Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het.”  Jesus het ook gesê dat Hy gewaak het oor die wat die Vader aan Hom gegee het en dat Hy nie een van hulle verloor het nie. (Joh. 17:12).

3.2.3.  Tyd:

Naas elke individu se persoonlike stiltetye met die Here, is daar drie sake waarin leiding en voorbeeld in die gesin nodig is.  Eerstens is dit van groot belang dat daar ‘n vasgestelde tyd vir huisgodsdiens sal wees.  Dit is tyd wat eenkant gesit word vir ‘n eksklusiewe afspraak van die gesin met Hom as Heer.  Dit open die deur vir sy toetrede tot die gesinsituasie.  Hier praat ons nie oor Hom nie, maar met Hom.  Hier word in sy teenwoordigheid vergader, word daar uitgereik na sy genade, geluister na sy Woord.  Hier onderwerp ons onsself aan sy wil.

Die bywoning van onderlinge byeenkomstes, naamlik die Erediens, Sondagskool en Jeug is net so belangrik (Heb. 10:25).  Die gesin behoort die aanbiddingsgeleenthede in die gemeente getrou by te woon.  Kinders moet van jongs af leer dat godsdiens nie ‘n saak vir vrouens en kinders is nie.  Baie leer juis so ‘n verkeerde begrip wanneer die ma die kinders Sondagskool toe karwei, terwyl die ouers selde die oggenddiens bywoon en feitlik nooit die ander kerklike verrigtinge nie.  Die vader van die huis behoort sterk leiding te verskaf in die godsdiens beoefening en dit te versterk deur sy ywerige en toegewyde voorbeeld.  Dit is belangrik dat dit `n blymoedige saak sal wees wat met vreugde en blydskap gepaardgaan.  (Ps, 122:1 en Ps. 84).  Dit moet nooit lyk of daar enigsins ‘n “óf” in hierdie opsig bestaan nie.  Dit is die hartaar van ‘n mens se godsdiens beoefening.

Nog ‘n belangrike saak is die Kerkkonferensies.  In Ex. 23:14 het die Here sy volk beveel om drie maal in die jaar vir Hom ‘n fees te hou in Jerusalem (vgl. ook Ex. 34:23-4).  Naas die voorsiening van die Leviete in al hulle stede om hulle van konstante Woord-onderrig te verseker, het God dit nodig geag om hulle ook periodiek op nasionale vlak saam te roep.  Dit het die plaaslike struktuur ondersteun en versterk.  Dit het hulle ook in hul breë verband as volk van God saamgesnoer.  Ek wil tog ook klem lê op eie kerk konferensies, naamlik `n blootstelling aan die eie tradisie.  Dit is hier waar hulle in breër verband aan dieselfde waardes en lering blootgestel word.  Dit is ook veral hier waar hulle lojaliteit aan en `n liefde vir die eie kerklike tradisie gaan aanleer.  Vgl. II Tim. 3:14-5.

Ouers wat moeite doen om as gesin soveel moontlik konferensies by te woon, pluk gewoonlik die heerlike vrugte daarvan. Dit is tyd wat uiters voordelig vir die toekoms belê word.

3.2.4.  Geld:

Die Woord leer ons dat die tiende[3] aan die Here behoort (Lev. 27:30) en dat ons die Here moet vereer uit die eerstelinge van al ons inkomste, dan sal ons skure vol word en ons parskuipe oorloop van mos (Spr. 3:9-10). Daarom behoort dit in elke Christen gesin beleid te wees dat die eerste tiende aan God gegee word en nie die laaste nie.  As die Here laaste op die begroting kom, is daar gewoonlik nie ‘n laaste tiende vir Hom oor nie.  Deur die eerste tiende van alle inkomste aan Hom te gee, koppel ‘n mens jou en jou gesin se materiële bestemming aan God.  Volgens Mal.3:10 is dit ‘n belegging in die geloof, veiliger as goud.  Hoewel dit nie noodwendig rykdom belowe nie, beloof dit wel voorsiening.  Dit is verder ‘n uitnodiging om vrees sowel as hebsug opsy te sit.

Hy wil ons graag ook op materiële gebied seën, daarom moet ons nie vrees nie, maar op Hom vertrou. Dit verskaf ‘n sekuriteit wat in Hom geanker is en wat nie oornag waardeloos raak of verdwyn nie.  Om aan Hom die eerste deel te gee, leer ons ook die beginsel dat dit saliger is om te gee as om te ontvang en verder besweer dit die hebsug, daardie begeerte om al wat voorkom in te palm, dikwels ten koste van ‘n ander.  Dit leer ook op `n baie praktiese manier betroubaarheid.  Die tiende beginsel vestig die besef dat alle geld wat in my hande kom nie myne is nie en dat dit nie wanbestee mag word nie.

Wanneer ons hierdie twee sake aan Hom verbind het en ons ons hierin aan Hom toevertrou het, dan het ons grootliks die fondament gelê vir sy Heerskap in die gesin.

3.2.5.  Visie:

Reeds in die kinderjare behoort `n koninkryksperspektief en `n las vir siele ontwikkel te word. Stel kinders bekend aan sendelinge, sending- en evangelisasieprojekte.  In elke evangeliese gemeente behoort daar sending-geleenthede en besoeke van sendelinge gereël te word ter wille van blootstelling.  Die wit oeslande moet binne hul sigveld gebring word en betree word.  Kinders moet daarin deel.

3.3.  Priesterskap van die ouers

Die eerste terrein waar die Nuwe Testamentiese algemene priesterskap beoefen word, is in die gesin. Priesterskap het ‘n tweeledige bediening, naamlik om namens God voor mense te staan en om namens mense voor God te staan.

3.3.1.  Voor God

In hierdie opsig is die ouers se verantwoordelikheid hoofsaaklik om voorbidding te doen, asook om voor die aangesig van die Here te wandel. Ouers het die voorreg van persoonlike begeleiding in gesinskonteks in die baie belangrike saak van voorbidding.  U het die taak om voor God te buig vir hulle en saam met hulle voor God te buig.  In u voorbidding vir hulle sal u dit by tye nodig vind om in die gebed op te tree teen die satan wat vurig begeer om u kinders soos koring te sif.  Augustinus se moeder, Monica, het vir hom bly bid totdat sy harde hart versmelt het.  Soms mag dit nodig wees om in die naam van die Here, op grond van sy beloftes, stand in te neem teen die magte van die duisternis wat hulle wil verswelg en hulle terug te eis of op te eis vir die koninkryk.  ‘n Christen-ouer wat kinders in die Naam van die Here ontvang en vir die Here grootmaak, kan nie toekyk dat die duiwel die werk van God ondermyn of dwarsboom nie.

Kinders moet egter ook met hierdie weg van voorbidding bekend raak. U moet hulle vertroud maak met die weg na die genadetroon van God, in alle omstandighede.  God se oor is geneig tot enige hulpgeroep, op die wat Hom wil vertrou en sy hulp soek, ook vir ander.  Hulle moet leer om ook ter wille van ander voor God se genadetroon te verskyn.

3.3.2.  Voor die gesin

Voorbeeld: Volgens Deut. 6:5 en 6 moet die ouer die Here liefhê met sy hele hart, hele siel en met al sy krag, terwyl sy Woord in die hart moet wees.  Sy hele wese en  lewenswandel moet spreek van ‘n innerlike toegewydheid aan God.  Uit vers 8 kan ons aflei dat dit in ons handelinge sigbaar moet wees dat ons volgens sy Woord lewe.  Verder moet ons gedagtes daardeur oorheers word.  Volgens vers 9 moet dit op ons deurposte en ons poorte sigbaar wees dat die Here daar teenwoordig is.  Kinders in die gesin moet sien dat God belangrik genoeg is dat die ouer tyd in gebed aan Hom afstaan.  As Hy ‘n natuurlike deel van die ouer se lewe uitmaak, sal dit natuurlik wees om oor Hom in die gesin te praat.  Dit moet een groot voorbeeldles wees van `n lewe in vertroue op God.

Deur woord: Deut. 6:7 sê egter ook vir ons dat hierdie dinge ook doelgerig onderrig moet word in die huisgesin.  Die Woord moet by die kinders ingeskerp word, die ouer moet daaroor spreek as hy gaan lê en as hy opstaan, tuis sowel as op pad.  Die Woord moet die wel en wee van die gesinslewe deurvleg.  Dit moet die natuurlike verwysingspunt vir elke gesinshandeling en alle -besluite wees.  Indien ons huise vol is van sy teenwoordigheid, dan sal die kinders Hom leer liefkry op dieselfde onbevange manier as die ouers.

3.4.  Die Gesin as Getuie vir Jesus

Om ‘n getuie te wees is belangriker as om te praat. Ons leef in ‘n tyd van woord-inflasie.  Die oorweldigende advertensie veldtogte maak dat mense ‘n skans om hulle opbou teen woorde.

As ons waarlik leef soos Hy dit wil, dan sal ons lewende getuies wees. Hy maak ons sy getuies wanneer Hy geleentheid vind om ons te maak na sy beeld.  God kan soveel bereik wanneer ‘n gesin vir en voor Hom lewe.  Wanneer ons lewens getuig, sal ons woorde ook ingang in harte vind.

3.4.1.  Dit is `n hewige stryd

Dit is geen wonder dat die gesin onder soveel aanslae ly nie. Dit wil soms voorkom asof die gesin in ons dag soos ‘n dobberende bootjie op ‘n stormagtige oseaan is, wat dreig om te vergaan onder die woeste aanslae en golwe.  Mense neig soms om te dink dat Jesus slaap en nie omgee dat gesinne vergaan nie, soos die dissipels in die storm op die see gedink het.  Miskien het baie van ons ook nodig dat Hy vir ons vra: “Waarom is julle bang? Het julle dan geen geloof nie?” (vgl. Mark. 4:38-40).

In die geloof kan ons vasstaan en op Hom vertrou wat gesê het dat Hy met ons is, al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld (Mat. 28:18). Dit is ‘n geloofstaak.  Die resultate volg nie onmiddellik nie en daar is baie teenstand.  Tog moet ons besef en glo dat God in beheer is.  Dan sal ons krag en sterkte vind.  Daniël het dikwels in krisis omstandighede kon sê: “Daar is ‘n God in die hemel!”. Laat ons dit nooit vergeet nie en ons onderwerp onder sy kragtige hand.  Dít is hoe die duiwel oorwin word.  Ons moet nugter en waaksaam wees om nie in die strikke van die satan in te loop nie (vgl. I Pet. 5:6-8).  Hy sal ons graag laat dink dat alles verlore is en dat selfs God nie meer kan help nie.

Werp daarom die bekommernisse op Hom! Omdat Hy in beheer ís, kan ons dit doen.  Hy sorg en ons sal kan getuig daarvan indien ons op Hom vertrou.  As ons nie glo nie, sal ons nie bevestig word nie (Jes. 7:9).  Moffat het dit so vertaal: “Hold God in doubt, you’ll never hold out.”  Dit is egter nie die maklikste weg nie, ons kan verseker weet dat die duiwel hewige aanslae sal loods.  Dit is egter die beste weg vir tyd en vir ewigheid.

Ouerskap is nie vir lafaards nie. Wees bereid om die stryd aan te durf. I Pet. 5:8-10 sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde leiding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.  En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”

Die beste manier om weerstand te bied, is om onder sy kragtige hand te leef. Die Christelike gesinslewe is in wese om onder ‘n mag te leef wat groter is as jyself.  Verder is ons lewe en hoop gevestig op die blye wederkoms van daardie Een van wie ons lewe en woorde getuig.  Hy wat weer kom, woon reeds die midde van die christengesin.  Mag ons eendag voor Hom staan met Jes. 8:18 op ons lippe: “Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het …..”

4.  Die Huwelik

Lees: Gen. 1:26-31; 2:20-25; Ef. 5:22-38.

Ons leef in tye dat die Skriftuurlike beskouing van die huwelik op die agtergrond geskuif word. Die huisgesin en huwelik word ernstig bedreig.  Saamblyery het mode geword, egskeiding statistieke is al vervelig, enkelouer gesinne is nie meer ‘n onbekende saak nie.  Hierdie dinge word vandag algemeen aanvaar as alternatiewe leefwyses.  Dit is een van die gevolge van die toenemende verwerping van God en sy Woord deur die samelewing, sowel as die onvermoë van die Kerk in die algemeen om die standaarde van die Woord te verkondig en die samelewing in te dra.

Soos die kennis van die Woord al skaarser word, selfs onder kinders van die Here, vervaag die doel en plan van God met die huwelik. Gevolglik kom die meer waarneembare aspek van die verhouding, naamlik seksualiteit, al meer op die voorgrond.  Dit lei tot ontrou in huwelike en brei dikwels uit tot kindermolestering, lesbianisme en homoseksualisme.  Al meer huwelike verbrokkel, vier uit tien kinders leef in gebroke gesinne.  Bybelse standaarde word bespotlik gemaak, so ook die tradisionele huwelik.  Die tragedie van die saak is dat talle kinders van God nie `n antwoord het nie, hulle ken nie die Lewenshandboek nie en versink saam met die wêreld in ellende weens `n gebrek aan kennis.

Ons het dringend nodig om die ou fundamentele waarhede vanuit die Bybel opnuut te hoor, te verstaan en ons eie te maak. Ons het ‘n nood daaraan om nuut kennis te neem van die strukture wat God daargestel het tot heil van die mens.  As die huwelike sterk is, sal die uitkringende strukture sterk wees.  Dit is ‘n voorvereiste vir gesinsvorming binne die goddelike sorgraamwerk.

In hierdie verband is daar sekere basiese of fundamentele feite waarvan kennis geneem moet word.

4.1.  Die huwelik is Goddelik verordineer

In Gen. 2:18 staan geskrywe: “Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom `n hulp maak wat by hom pas”. God het dus die huwelik verordineer, dit het sy oorsprong by God.  Die huwelik is nie bloot ‘n sosiale kontrak tussen twee persone nie.  Dit is ook nie ‘n toevallige ontdekking van mense uit die oertyd nie.  Dit is nie opsioneel nie, dit is die normale staat vir die mens om in gehoorsaamheid aan God met sy/haar lewensmaat verenig te word.  God het nie die man gemaak om alleen te wees nie, ook nie die vrou nie.  God het hierdie verbintenis ingestel met die heil, geluk en seën van die mens in gedagte.  Dit is tot die beswil van die mens en tot voordeel van sy saak op aarde.

4.2.  Die huwelik is in wese goed

Nadat God die mens en sy vrou gemaak het, het God alles gesien wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed (Gen. 1:31). Omdat die huwelik vanuit God is, is dit goed, soos God se skepping.  Die huwelik kom van voor die val, daarom is dit heilig en goed.  God vergelyk dit selfs met die verhouding tussen Jesus en die Kerk.  Ef. 5:22-23, Openb. 19:7-9, 21:2.

Dit is soms moeilik in ons dag om te glo, veral as die helfte of meer van huwelike in die egskeidingshof eindig. Baie egpare hou ook net uit ter wille van die kinders of ouers.

Al die probleme wat vandag ervaar word, soos egskeidings, gebroke huise, stief kinders en so meer, die huwelik as sodanig is beslis nie die rede daarvoor of oorsaak daarvan nie. As die huwelik afgeskaf sou word, sou al die ellendes wat nou bestaan slegs vererger in plaas van te verbeter.  Dit is die sonde in die hart van die mens, die onwil om God se wil uit te voer en omdat die mens slegs sy eie belange wil bevorder.

4.3.  Een vlees

Man en vrou word een vlees. Gen. 2:24: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”  Die verlaat en aankleef beginsel is belangrik.  Die man moet loskom van sy ouerhuis, uit sy vorige verband en nou `n nuwe besluitnemingseenheid vorm as terrein vir God se werksaamheid, waarin hy as hoof leiding gee en sorg verskaf.

Egpare moet hulself in gehoorsaamheid aan die Here oorgee en een vlees word, `n eenheid wat tot die einde toe saam werk en saam trek in God se wil en doel en saak op aarde. Egliede kan nie elkeen hul eie pad wil loop en eie koers vat nie.  Al die verantwoordelikhede van die lewe plaas geweldige druk en stres op die mens.  Hulle is egter vir mekaar gegee om mekaar te help en in staat te stel om dit te verwerk en mekaar te versterk.  Saam kan hulle `n gedugte span vorm wat die lewensaanslae skitterend kan verwerk.  Hulle skep saam lewensruimte vir mekaar.  Die man kan dit alleen nie maak nie, hy het `n hulp nodig wat by hom pas.  Die vrou is weer die goedheid vanself, maar dit is eers binne die sterkte en struktuur wat haar man bied dat sy effektief funksioneer.  Hulle kan persoonlik dalk afsonderlik oorleef, maar onmoontlik hul Godgegewe taak in isolasie uitvoer.

Egpare moet ook onthou dat dit nie die ouer-kind verhouding is wat permanent is nie, maar die huweliksverhouding.  Ouers wie se lewe rondom kinders gebou is, beland kort na laaste kind uit die huis gaan, in die spreekkamer.  Hulle het oor die jare heen gefaal om hul huwelik te bou, dan is hulle vreemdelinge vir mekaar.  Het u genoeg in gemeen om voort te gaan?

4.4.  Die Huwelik is `n lewenslange verbond

Volgens Spr. 2:17 en Mal. 2:14 is die huwelik ‘n verbond, gemaak in teenwoordigheid van God.  Salomo praat van die vreemde vrou “wat die vriend van haar jeug verlaat en die verbond van haar God vergeet”. In Maleagi lees ons: “Omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond“.  Dit het daardie beskutting nodig omdat God `n langtermyn doel daarmee het.  Hulle moet die permanente verhouding van Christus met sy Kerk uitbeeld en terselfdertyd as gesinsbasis dien vir nuwe lewens wat God op aarde wil stel, om in daardie geborge konteks vir en voor die Here op te groei.

Die aanslae op hierdie struktuur verhewig. Kinders van God sal Hom moet gehoorsaam en getrou wees en weerstand bied tot die dood toe.  Christene het in elk geval ‘n ander standaard as die wêreld met betrekking tot egskeiding.  Die wêreld se simpatie lê gewoonlik by egliede, terwyl die res verontagsaam word.  Egskeiding doen groter skade aan die gemeenskap rondom die egpaar as aan die egpaar self.  Dit is bewys dat siektes, alkoholisme, geesteskrankheid, swak gesondheid van moeders en kinders en selfmoord opmerklik meer onder geskeides voorkom as in normale omstandighede.  Mc Arthur (1985:74) skryf geruime tyd gelede al dat vier uit elke tien kinders (in die VSA) in gebroke gesinne leef, en dat daar agtien miljoen kinders by stiefouers leef.  Sodra God se standaarde verander word, ly die mens ernstige gevolge.  Lees gerus die statistieke wat J. Mc Arthur[4] op p. 74 hieroor aangee.

4.5.  Huwelik tot gesin

Die huwelik lei tot ‘n gesin.  Normaalweg wil God aan ‘n huwelik kinders toevertrou.  Ouers behoort hulle hierin aan God te onderwerp en onder sy Heerskap hieroor te besluit, en ruimte laat vir God om sy wil deur te voer (vgl. J. Wesley e.a.).  Die Woord sê kinders is ‘n erfdeel van die Here, ‘n seën.  Die mensdom word vandag egter beheer deur selfsug, eie belang, materialisme en soortgelyke euwels.  Kinders is nie deel van daardie scenario nie.  Ouers wat God vrees, sal sy wil wil uitvoer en beskikbaar wees.

4.6.  Bybelse orde in die sorgstruktuur

Ons het reeds vroeër al na I Kor. 11:3 gekyk: “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus is.”  Christus staan onder God se wil en voer sy wil uit.  Die man staan onder die outoriteit of hoofskap van Christus en is aan Hom verantwoording verskuldig vir die goeie leierskap en versorging en groei van sy gesin.  Die vrou leef onder die outoriteit van haar man. Kinders leef in Christus onder outoriteit van beide ouers.  Dit is reeds aan die begin breedvoeriger gestel en word nie hier herhaal nie.  Hoofsaak is dat God `n bepaalde doel het hiermee.

4.7.  Twee verskillende geslagte

In Gen. 1:27 staan: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” en in 5:1-2: “Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God hom geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God.  Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is”.  Dit is twee hoogs verskillende wesens, twee verskillende geslagte.  Vir hierdie twee hoogs verskillende wesens het Hy die huwelik verordineer, sodat twee mense van die twee verskillende geslagte een vlees kan word.  God wil dat die verskeidenheid saamgevoeg word tot ‘n aanvullende eenheid!  Die een sonder die ander is ‘n onvervulde, eensydige onvolmaaktheid, en die man meer so as die vrou.  Daarom moet die onderskeid gehandhaaf word.

Die sataniese aanslag teen die onderskeid in geslagte het dekades gelede begin op die vlak van die uiterlike voorkoms.  Die “unisex” beweging het die onderskeid tussen manlik en vroulik in sommige gevalle erg bemoeilik.  Die aanslag is verder deurgeloods, sodat daar vandag ‘n geslagsrol identiteitskrisis is.  Min mense in die samelewing weet vandag nog wat is die oorwegende verantwoordelikhede en rol van die man en watter is die verantwoordelikhede van die vrou in die samelewingstrukture.  In die lig hiervan is dit nie vreemd dat homoseksualiteit so drasties toeneem nie.

Voorts beeld die media die vrou totaal anders uit as wat die Skrif leer! Sy word voorgestel as die onverskrokke bestuurder wat die manlike passasier laat naels byt van spanning!  Met ‘n oormaat van selfvertroue laat sy mans verkrummel aan haar voete!  Sy kan enige man teen die grond “karate” of “judo“! en sy skiet dodelik akkuraat!  Sy word nooit siek nie, maak nooit ‘n fout nie en doen nooit ‘n dom ding nie!  Sy word voorgestel as ‘n heldin met bene wyd geplant en hande op die heupe in ‘n uitdagende houding.  O ja! – daar is natuurlik geen teken van moederskap of kinders nie!  Mc Arthur (1985:73) verwys ‘n sekere dr. Walter Menninger, ‘n psigiater in die VSA, wat gesê het dat ‘n geslag “violently agressive women” besig is om te ontwikkel deur die blootstelling van kinders aan die TV-fantasie van vroulike super helde.  Daarteenoor word pa’s pateties voorgestel.

4.7.1.  Gevolge waar onderskeid geïgnoreer word:

  • Vrouens ly aan onsekerheid en depressie.
  • Mans is onseker – hoe tree ‘n man op? Die tradisionele manlike rol is beperkend en dit lei tot geslagsrol-verwarring. Voorts skep dit onrealistiese verwagtinge.
  • Die gevolge raak ongelukkig ook die teiken wat die Satan daarmee beoog het, naamlik:
  • Godsdiens: Christus word vandag te veel as ‘n swakkeling voorgestel – onaantreklik, ‘n voorwerp van minagting, veragting.
  • Daarmee saam het mans hul rol as geestelike hoof/priester van die gesin prysgegee. Gevolglik het veel van hul verantwoordelikheid in die kerk die vroue te beurt geval. Ook in die huisgesin. Die ma moet aanspoor tot huisgodsdiens, kerk toe en Sondagskool toe.  Die gevolge hiervan is besonder nadelig vir die kerk en godsdiens.  Omdat kinders deur voorbeeld leer, leer hulle by implikasie dat godsdiens vir vrouens en kinders is!  Wanneer die seun groot is, reken hy dat hy klaar is met die dinge van ‘n kind!  Hy het geen besef dat hy binne God se wil en plan en vanuit sy genade bedoel is om herder en skild vir sy vrou en kinders te wees nie.

Die christelike godsdiens is inteendeel ‘n manlike godsdiens. Christus het in ‘n skrynwerkerswinkel grootgeword.  Hy het onbevrees en dapper die rowers uit die tempel verjaag met ‘n sweep.  Hy het die dood nie gevrees nie.  Dit vra die beeld van die man om die regte begrip oor te dra.  Dit is dan nie vreemd dat daar ‘n hewige aanslag teen die manlike in die godsdiens geloods word nie.  Die onderskeid moet erken word en die manne moet hul verantwoordelikheid voor God aanvaar!

Hierdie is nie die reëls van ‘n verouderde, gestagneerde kultuur nie, ook nie bloot Paulus se mening nie. Hierdie is die leer van die geïnspireerde Woord van God.  Daarom het die Christendom nie ‘n boodskap van onderdrukking van die vrou nie.  Inteendeel, Jesus bied aan die Christendom deur die krag van die Heilige Gees die vervolmaking, die vervulling van die man en vrou in hul God-verordineerde en God-geskape rolle.

4.8.  Liefde

Liefde is ‘n opdrag eerder as ‘n emosie (vgl. ook J. Mc Arthur, 1985:58-9). Hollywood het die begrip van liefde nek omgedraai.  Heelwat mites doen in ons dag die rondte van daaruit:  Liefde word voorgestel as ‘n “happening”, ‘n emosie wat onweerstaanbaar en onbeheerbaar kom, iets wat jy nie kan keer nie, en iets sedeloos daarby.  So ‘n benadering spruit in wese vanuit gevoel, begeerte, ja vanuit wellus en nie uit liefde nie!  Dit is ‘n soort ego-trip.  Wanneer die gevoel oorgewaai het, stap die partye eenvoudig uit die verhouding uit.  Wanneer die wellus bevredig is, is die aangetrokkenheid ook daarmee heen.  Dan sê hulle met ‘n skouer ophaal: “Ons is net nie vir mekaar bedoel nie!”, of “Dit werk nie uit nie!”  Liefde is nie ‘n emosie nie (al lei dit daartoe).  Joh. 3:16 is nie emosie nie, maar ‘n daad van selflose opoffering, nie op gevoel nie, maar op wat reg is, op die geregtigheid van God.

Die liefde tussen ‘n man en vrou het ‘n pragtige voorbeeldles om dit rigting en leiding te gee in Ef. 5:25. Vir die manne sê Paulus: “Manne julle moet julle eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor gegee het……”  Vers 28 en 29: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.”

Dit kom nie vanselfsprekend nie, mens moet jouself daarin gee. Maar Hy wat dit van ons verwag, is ook ons in staatsteller.  Redding bring Christus in die verhouding in.  Die vervulling met die Heilige Gees maak dit vir ‘n man en vrou moontlik om in liefde en harmonie saam te funksioneer tot eer van God.

4.8.1.  Die Belangrikheid van Liefde

Ek gee hier graag `n gedeelte van `n artikel wat in die “Readers Digest”[5] verskyn het.

It may be hard to believe that something as simple as talking with friends, feeling close to your parents or sharing thoughts openly can make such a powerful difference to your health. But many studies document that these things do.

Scientists at the University of California, Berkeley, studied 119 men and 40 women who were undergoing coronary angiographies. Those who felt the most loved and supported had substantially less blockage in the arteries of their hearts.  Similarly, researchers in Israel studied more than 8500 men with no prior history of angina (chest pain).  Men who had high levels of anxiety were more than twice as likely to develop angina during the next five years.

However, those who answered, “yes” to the question “Does your wife show you her love?”, were significantly less likely to develop angina. “The wife’s love and support is an important balancing factor”, concluded the researchers.

In Sweden more than 17000 men and women aged between 29 and 74 were studied for six years. The most isolated of those had almost four times the risk of dying prematurely.

In another study of elderly men in Sweden, those who had low emotional support or who lived alone had more than double the premature-death rate of the other men, even after controlling for risk factors that influence disease.

The power of social support was also seen in the North Karelia Project in Finland. It found that over five to nine years, men who were the most socially isolated had a risk of death two to three times higher than those with the most social connections.  Again, these results were found even after adjustment for other factors.

I believe the evidence is compelling: love and intimacy lead to greater health and healing, while loneliness and isolation predispose one to suffering, disease and premature death.

Scientific studies have made it clear that the capacity to nurture and be nurtured – to have what I call an open heart – is vital to having a long healthy life.

5.  Die Rol van die Man

Hier kyk ons veral na Ef. 5:25-33; Kol. 3:19 en I Pet. 3:7.

In die vorige afdeling is daar gekyk na Bybelse beginsels vir die huwelik. Nou wil ons kyk na die unieke rol en verantwoordelikheid van die man.  God het in sy ewige, sorgende liefde dit gewil dat sy sorg via Christus as Opperherder, via die man die gesinstruktuur sal bereik.  Die man kan gesien word as gesinsherder onder Christus.  Die Woord van God het heelwat te sê om die manne in te lig oor wat hul rol en funksie in die huwelik is.

5.1.  Die Man is die Hoof

Ef. 5:23 sê: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam”. I Kor. 11:3 sê: “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van die man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus”. Dit sê vir ons dat God primêr die man verantwoordelik hou vir die gesin.  Hierdie hoofskap spel dus geensins onderdrukking vir sy gesin of vir sy vrou nie, nog minder dat hulle in die grond vertrap of verkleineer of verneder gaan word nie.  Dit hou geen verband met die wanbegrippe rondom hoofskap in die wêreld nie, dit is nie `n baas-kneg verhouding wat hierdeur in die huwelik geskep word nie, inteendeel, dit gaan om die daarstelling van intensiewe sorg vir die kleinste sel-gemeente-eenheid, om herderskap.

Dit het baie eerder die betekenis van eer en opheffing (I Pet. 3:7), geborgenheid, van beskerming, ‘n skild, ‘n skans. Daar is iemand groot en sterk (nie noodwendig fisies nie) met murg in sy pype, wat leierskap met verantwoordelikheid (eienaarskap) aanvaar vir daardie groepie mense.  Dit is iemand met die spreekwoordelike murg in sy pype, met staal in hom.  Hy gee om vir hulle, hy bewaar en behou hulle.  Hy sal nie toelaat dat die vyand hulle wegsleep nie – moreel, sedelik of geestelik nie.  Dit gaan dus om verantwoordelikheid eerder as baasskap, om eienaarskap te aanvaar.

Hierdie reëling is dus baie duidelik met die oog op die heil van die huwelik en gesin.  Iemand neem verantwoordelikheid vanuit Christus vir hierdie groepie mense.  Dit skep die blywende basis vir `n gesonde, gelukkige huweliks- en gesinsverhouding met al die vreugde, plesier waarop mens enigsins kan hoop.  God wil seker maak dat sy heilsorg tot op grondvlak bemiddel word.  Hierdie grondslag lei onwillekeurig na die volgende verantwoordelikheid.

5.2.  Die man moet verstandig met sy vrou saamlewe

I Petrus 3:7 sê: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle (vrou) saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie”. Kol 3:19 sê: “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitterd word nie”.

Hier is twee sake. Eerstens moet die man met sy vrou saamleef.  Hy verlaat sy vader en moeder, verbind hom aan sy bruid en leef nou in `n permanente en dinamiese verhouding met haar saam.  Hy onttrek hom nie in `n kokon van afsydigheid of afgetrokkenheid nie.  Hy probeer ook nie om nog in sy ouerhuis ook te leef nie.  Hy leef nie sy eie lewe nie, maar in `n dinamiese, interaktiewe verhouding saam met sy vrou.

Om verstandig met haar saam te lewe beteken dat die man nugter moet koers hou en nie ontwrig raak wanneer sy vrou ontwrig raak nie.  Om aan haar as die swakkere eer te bewys, gaan om bestuur, tot haar en die gesin se voordeel, hulle moet  immers onder sy vleuels skuiling en geborgenheid vind.  Hy verskaf aan sy vrou en kinders daardie ‘rusplek’ (menuga waarvan ons in Rut 1:9 en 3:1 van lees) teen al die lewensaanslae verseker in die krag van die Here vir hulle `n vredevolle lewe.  Die man moet kophou, koershou, vastigheid en stabiliteit in die verhouding handhaaf.

Die vrou is meer vatbaar vir emosionele skommelinge omdat sy biologies en psigologies anders saamgestel is as die man, om moeder te wees. Daarmee word geensins geïmpliseer dat die man die verstand en sy die houding het nie.  Inteendeel, sy kan baie nugter dink en besonder intelligent optree.  Lees maar net Spreuke 31!  Volgens I Kor. 11:11 is man en vrou in Christus gelyk. “En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie.”  Omdat sy egter moeder moet wees, is sy emosioneel meer toeganklik geskape en sy moet nie manlik probeer wees nie.  Dit is daarom dat in Moses se tyd reeds die man verantwoordelikheid moes neem vir haar geloftes en dit sanksioneer of ophef (Num. 30).  Sy het die potensiaal om uitgebuit te word.  Jesus het die Fariseërs veroordeel omdat hulle die huise van die weduwees uitgebuit het.  Net sy kan moeder wees, `n vader kan nie moeder wees nie.  Maar die man moet haar skild wees.

Daar kom tye in `n huwelik dat sy emosioneel verwaarloos voel, fisies en of psigies. Dan kan sy dinge sê wat jou kan kwets, sy kan jou beskuldig van liefdeloosheid.  Gewoonlik sê sy dit nie omdat dit so is nie, maar omdat sy wil hoor dit is nie so nie, sy soek na `n herversekering van jou kant af.  Moenie so onverstandig wees om wat sy sê ernstig op te vat nie, maar weë jou as jy haar en haar inherente behoefte aan jou sterkte nie ernstig opvat nie!  Moenie teen haar verbitterd raak nie (Kol. 3:19).  Wees inteendeel vir haar `n skild teen die bose en alle aanslae teen haar, sy is `n kosbaarheid wat aan jou sorg toevertrou is!

5.3.  Die man moet sy huis goed regeer

Voorts koppel die Here gemeentelike bestuur aan gesinsbestuur, met die gesin as eerste stap en die gemeente as tweede stap. In I Tim. 3:4-5 lees ons die volgende:  “…. een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis goed te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?”  Bestuursbeginsels is oral dieselfde, dit verskil hoofsaaklik in die omvang daarvan.  Dit gaan om die positiewe aspek van sorg dra.  Dit beteken dan dat die man tot die voordeel van die hele gesin sorgsaam sal optree.  Een wat dit deur genade bemeester het, kwalifiseer om in die breër struktuur van die gemeente ook sorgende leierskap op te neem.

Ons moet ook onthou dat die hoofskap van Christus die betekenis het van dienslewering eerder as om bedien te word. Dit impliseer dan dat die hoof van ‘n gesin klaar sal wees met sy eie selfsugtige begeertes om te kan optree in belang van sy gesin wie van hom afhanklik is.  Die man moet hom kan gee vir sy gesin, homself uitgiet vir hulle.  Hy leef nie vir homself nie, maar vir sy vrou en kinders.

‘n Goeie bestuursbeginsel vir die man is om jouself in die vrou se rol in te laat. Wees sensitief, probeer voel wat sy voel.  Dit sal jou met ander oë na haar laat kyk.  Onthou sy is jou onmisbare deel, sy het jou voltooi, sy het daardie leë plek naby jou hart gevul.  Analoog aan Christus wat sy lewe aflê vir die Kerk en Kerk wat vir Hom lewe, is die kernvraag hier:  Man, het u u vrou so lief dat u vir haar sal sterf, dat u u lewe vir haar feil het?  Vrou, het u u man so lief dat u vir hom sal lewe?  Onthou dat u op u huweliksdag uself onherroeplik en onvoorwaardelik aan mekaar gegee het!  Die huwelik bestaan nie uit wat jy daaruit kry nie, maar uit wat jy daarin belê.

5.4.  Die man is die minnaar van sy eie vrou

Ef. 5:25 sê: “Manne, julle moet julle eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het”. Liefde is nie wat jy kry nie, maar wat jy gee.  “SOOS CHRISTUS DIE GEMEENTE!”  Die enigste manier wat dit tot volle ontwikkeling kan kom, is wanneer mens in die volle verlossing van Jesus deel.  Anders neig die mens om die sondige neiging van oorheersende selfsug te openbaar.

‘n Mens hoor soms dat iemand sê: “Ek het my vrou nie meer lief nie!”  Vir die kind van God wat gehoorsaam aan God lewe, bestaan daar nie so iets nie.  Die persoon het of ‘n wanbegrip van liefde (dat dit byvoorbeeld met emosie verwar word), of hy is ongehoorsaam aan die Here.  Die man staan onder opdrag van die Here om sy vrou te bemin (Ef. 5 en Kol. 3:19).  Die inisiatief moet van die man af uitgaan!  God het aan jou een mens toevertrou om met jou hele wese te bemin!

Navorsing het getoon dat die vrou se grootste bevrediging by die aanvang van die huwelik lê. Hoekom is dit so?  Dit is daardie tyd dat sy nog die gekoesterde, aanvallige liefling.  Die Woord sê in Pred. 9:9: “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son – al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son.”  Dit is jou beloning van die Here af.  In Spr. 5:18-9 lees ons: “Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug, die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurig bedwelmd wees.” Maleági 2:16 stel dat die Here egskeiding haat en verder: “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.” (Ook al het die potplantjie intussen `n vetplantjie geword!) Ontrou is nie net egbreuk nie, dit sluit ook verwaarlosing in.  Die man moet haar emosionele behoeftes versadig.  Sy het haarself aan jou (tussen al die ander mans uit) toe vertrou, gegee.  Netso het jy haar tussen al die ander verkies en uitgekies.  Wees dus nie ontrou aan haar nie.  Ons hoef nie hier baie uit te brei nie, dink maar net terug en probeer weer van die dinge sê en doen wat haar hartsnare daar by die begin geroer het.  Romantiseer haar soos toe – doelbewus.

Dr. James Dobson meen dat in 90% van egskeidings die probleem is dat die man te besig is in sy beroepslewe – dan raak hy onsensitief, onromanties, onkommunikatief. Gevolglik raak sy eggenote eensaam, kwesbaar, honger na romantiek.  Depressie raak algemeen vanuit emosionele isolasie, hulle voel dat hul nie slaag om die aandag van hul mans te kry of tot hul deur te dring nie.  Vrouens volg dan gewoonlik een van agt uitweë:  Werk; vyandigheid teenoor manlike geslag; depressie; flirtasie; dwelms of alkohol; selfmoord pogings; verwerping van moederskap; egskeiding.  Die anderkant van die saak is dat ‘n vrou wat deur haar man bemin word, ‘n gelukkige vrou is, en ‘n gelukkige vrou het ‘n gelukkige man!

Dr. James Dobson se vader het hom teenoor sy aanstaande bruid so oor die permanensie van die verhouding uitgelaat[6]:

“Ek wil hê dat jy sal begryp en ten volle bewus sal wees van my gevoelens rakende die huweliksverbond wat ons gaan betree. Ek is aan moedersknie en in ooreenstemming met die Woord van God geleer dat die huweliksbeloftes onverbreekbaar is, en deur my toetrede daarin, verbind ek my absoluut en lewenslank.  Die gedagte aan vervreemding van jou deur egskeiding vir enige rede sal nooit toegelaat word om my denke binne te dring nie.  Hierin is ek nie naïef nie, inteendeel, ek is ten volle bewus van die moontlikheid, hoe onwaarskynlik dit nou ook al mag lyk, dat onaanpasbaarheid of ander onvoorsiene omstandighede uiterste lyding kan beteken.  Indien so iets gebeur, is ek bereid om aan my kant dit te aanvaar as `n gevolg van die oorgawe wat ek nou maak en om dit te dra, indien nodig tot die end van ons lewens saam.

Ek het jou innig liefgehad as die dierbaarste en sal jou steeds liefhê as my vrou. Bo en behalwe dit het ek jou lief met `n Christelike liefde wat vereis dat ek nooit so sal optree dat dit ons geestelik benadeel nie.  Ek bid dat God self ons aangetrokkenheid tot mekaar volmaak en ewig sal maak.”

In Maleági vra die volk waarom die Here nie meer op hul offers ag gee en dit nie meer vir Hom welgevallig is nie. Dan antwoord die Here: “Omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.” ….. “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die Here, die God van Israel, en dat `n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die Here van die leërskare.  Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.” (Mal. 2:14-6). Jou verhouding met jou vrou is `n weerspieëling van jou verhouding met Christus.

5.5.  Die Man is die Sorg vir sy Vrou

Christus se sorg aan die gemeente is die voorbeeld wat nagevolg moet word. Hy het Homself oorgegee vir die gemeente Ef. 5:25.  Nou sê Ef. 5:29 vir die man:“ maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” I Pet. 3:7 “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” Dit sluit ook nou aan by die begrip ‘hesed’ in die boek Rut, wat beteken ‘gunsbewyse’. Die Here bewys sy guns aan mense en die wat deur daardie guns aangeraak is, word daardeur omskep en dra dieselfde guns weer verder uit.

Die man sorg vir die regte emosionele en geestelike konteks. Hy leef tot haar voordeel en heil.  Die ideaal is dat sy in u sorgsaamheid ervaar hoe Jesus oor haar voel, daarom het u `n noue verhouding met Jesus nodig.  U moet vir haar `n rusplek wees, u moet die kanaal wees waardeur God se gunsbewyse haar bereik.  Benader die verhouding Bybels en gee.  Gee jouself vir jou vrou, ‘n belê in haar, voed haar emosioneel en jou binnekamer sal soos `n wittebrood bly.

Aanvaar verantwoordelikheid vir wanverhoudinge en doen iets daaraan. Bou haar op en moenie haar aftakel nie.  Sy moet ontspanne wees in jou teenwoordigheid.  Sy moet nooit voel of sy met ander kompeteer om jou welgevalle nie.  Sy mag ook nooit verneder word tot `n blote seksvoorwerp nie, al is die huwelik die uitsluitlike ruimte waar seks geniet word.  U binnekamerlewe is ook nie die onderwerp vir gesprekke of grappe nie, nog minder ander vroue.  Waak oor haar en versorg haar, fisies op tydelike gebied, sowel as psigies teen die aanslae en geestelik, soos jou eie liggaam Ef. 5:28.  Net so min as wat jy jouself sal seermaak, net so min moet jy dit aan haar doen.  Moet dus nie u verwagtinge in selfsug en eie belang volgens die wêreld se norme stel nie.

Spreuke sê wat `n man se verantwoordelikheid is teenoor `n deugsame vrou. “Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook , en hy prys haar: Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid nietigheid; `n vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word.  Gee haar die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.” Spr. 31:28-31.  Gee ag en wees `n man vir jou vrou en leer jou seuns ook om dit te doen!

Skep balans tussen jou werk en jou huis. Kry perspektief op waardes – moenie jou lewe omswoeg vir dit wat nie saamgaan hemel toe nie.  Maak tyd om in mekaar te belê, ook vir plesier saam.  Leef jou in in die jeugtyd van jul liefde en poog om haar emosioneel te versadig soos toe.  Dink aan jul jeugtyd en sê en doen weer van die dinge wat jul toe gedoen het.  Hou die romanse lewend.  Liefde moet versorg word!

6.  Die unieke Rol van die Vrou in huwelik en gesin

Hier staan ons veral stil by Ef. 5:22-24, Kol. 3:18, Tit. 2:3-5 en I Pet. 3:1-6.

In die wêreld daar buite word die vrou totaal anders voorgestel as wat die Bybelse waarhede ons leer. Enersyds word sy voorgestel, soos vroeër gestel, as in kompetisie met die man in stede van komplementerend tot die man.  Die vrou word andersyds ook weer uitgebuit deur die advertensiewese en in die proses verlaag tot `n prikkelpop of erger gestel, tot `n seksvoorwerp.  God het nie vroue gemaak om met die man te kompeteer nie, ook nie om seksvoorwerp te wees nie.  Sy doel is veel hoër as dit.  In sy skepping het hy die leemte in die man opgemerk en vir hom `n vrou, `n maat, gemaak wat by hom pas.  In kombinasie word dit moontlik om God se doel met die mens te verwesenlik.  Hulle is gelyke wesens voor God met gelyke regte, maar in opdrag en funksie is daar beduidende onderskeid.

6.1.  Die vrou voltooi haar man

God het gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.  Ek sal vir hom ‘n maat maak wat by hom pas.” (Gen. 2:18).  Die man is onvolledig sonder die vrou, onvoldoende om God se wil op aarde te verwesenlik.  Hy moet aangevul word met `n vrou met wie hy een vlees word (Gen. 2:24).  I Kor. 11:9 sê verder dat die vrou vir die man geskape is.  Dit lyk dan of die man op sy eie dit nie kan maak nie!  Luister hoe sleg is mans sonder vrouens:

  • Navorsing het aan die lig gebring alleenlopende mans 80-90% van sosiaal-patologiese gevalle uitmaak. Hulle verdien as groep minder geld as enige ander groep in die gemeenskap, minder as alleen vrouens of werkende vrouens.  Hulle is minder verantwoordelik met rekeninge, motorbestuur en ander persoonlike gedrag.  Die alleenloper man se aggressiewe neigings is ongetem en destruktief.
  • Die vrou daarenteen verlang langtermyn sekuriteit en stabiliteit. Materieel soek sy ‘n huis, ‘n bestendige inkomste, sekuriteit vir haar en haar kinders.
  • Die wonder van God se plan is nou dat daardie energie van die man, verenig met die vrou se behoeftes, ingespan word.

Die huwelik verander die man drasties.  Mens kan eintlik tereg sê die vrou maak die man.  Daardie selfde onverantwoordelike man word ‘n pilaar vir die sosiale orde, die oomblik wat hy hom aan ‘n vrou in die huwelik toewy.  Dan word die Goddelike plan duidelik.  In stede van sy energie aan te wend in die verkryging van sy eie luste en begeertes, bou hy ‘n huis en ‘n toekoms vir sy gesin.  Sy energie word gekanaliseer.  ‘n Manlike trots ontwaak in hom, omdat hy deur ‘n vrou en kinders bemin en benodig word.  Die man is afhanklik van die vrou se ondersteuning en onderskraging om sy rol sinvol te vervul.  Geen wonder dat Spreuke 18:22 sê: “Wie `n vrou gevind het, het iets goeds gevind en `n welgevalle van die Here verkry.”  En Spr. 19:14: “Huis en goed is `n erfenis van die vaders, maar `n verstandige vrou is van die Here.”  Salomo sê dat `n deugsame vrou se waarde is ver bo korale. Spr. 31:11, 12, 23: “Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.”  “Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.”

Elke een in die gesin baat by die verhouding. Wanneer ‘n gemeenskap saamgestel is uit miljoene sulke indiwiduele gesinne, dan is ‘n volk sterk en stabiel.  Sonder dit is ‘n nasie se ondergang onvermydelik.  Huidig is die verval van die huwelikstrukture die grootste bedreiging in die RSA.  Wanneer die manne geen rede het om hul energie in te span om hul gesinne te versorg nie, dit is dan wat sedeloosheid, drank en dwelm misbruik, onstandvastigheid in ‘n werk en aggressiewe gedrag onbeteueld in ‘n gemeenskap vergroei.  En dit is die begin van die einde.  Vrouens het `n ontsaglike groot verantwoordelikheid voor God in hierdie verband.  Dit is hulle taak om die manne te maak wat God bedoel het dat hulle sal wees.  Uself het dit nodig, u gesin het dit nodig en die gemeente en land het dit nodig.  Salomo het immers gesê in Spr. 14:1 “Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.”

Die volgende punt dui aan dit dit nie beteken dat u hom oorheers nie, maar agter hom staan en al die ondersteuning gee in sy taak voor God.

6.2.  Die vrou onderwerp haar met eerbied aan haar man se Sorg en leiding

Kol. 3:18 sê: “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here” en anders vertaal “Vir die vroue wil ek sê: julle moet julle stel onder julle mans, want so hoort dit by mense wat aan die Here behoort”. Ef. 5:22 sê: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig soos aan die Here.” en anders vertaal “Vir die vroue wil ek sê: elke vrou moet haar stel onder haar man soos ons ons onder die Here stel”. Ef. 5:33 “… en die vrou moet die man eerbiedig” anders vertaal “die vrou moet vir die man eerbied hê”. In I Pet. 3:1 lees ons: “Vir die vroue wil ek sê: julle moet aan julle mans gehoorsaam wees” en vers 6 “soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie”.

Sy moet haar oorgee aan sy liefde, leiding en beskerming, soos dit betaamlik is in die Here (Kol. 3:18). Sy moet aanvaar dat sy onvolledig sonder haar deel is, en haar plek aan die sy van haar man inneem.  Sy moet haar plek in die goddelike plan aanvaar en vol staan.  Dit is onontbeerlik ten einde `n verhouding te bou waarin Christus gesien word.

Sedert die sondeval begeer die vrou om oor haar man te heers. Gen. 3:16 sê: “… Na jou man sal jou begeerte wees (jou begeerte sal wees om oor jou man te heers) en hy sal oor jou heers.”  So `n omkering van die struktuur wat God daargestel het sal sy doel verydel.  Dit het veel ernstiger gevolge as wat gewoon besef word.  Dit lei tot `n rebelse, beterweterige, onwillige, ononderdanige geslag, ongehoorsaam aan die Here.  Sy moet nooit haar emosies of seksualiteit aanwend om hom op haar weg te laat gaan soos Delila nie.

Na die sondeval moes die orde herstel word. Bou liewer aan jou man se leierskap.  Gee deur u lewe `n voorbeeld les van die kind van God se verhouding met Jesus.  Betoon die nodige agting vir jou man as gawe van God in sy herderlike besorgdheid oor jou en jou kinders en maak hom sterk daarin.  Moenie hom lam maak nie.

Twee misverstande rakende onderworpenheid wat uit die weg geruim moet word:

  • Ontneem haar nie haar vryheid, maar laat dit juis toe. Dit is soos ‘n trein, vry wanneer gebonde aan die spoorlyn. Of soos ‘n klavier, harmonieus wanneer volgens die musiek reëls bespeel.  Vryheid in God se wêreld is nooit sonder struktuur nie.  Hierdie is dan ook dié weg van vryheid vir die vrou.  Dan is sy vry om vrou en moeder te wees.  Anders is sy soos ‘n ontwrigte ledemaat aan die liggaam, soos `n voet wat `n hand probeer wees.
  • Dit verlaag haar nie tot ‘n robot nie. Hierdie is nie identies met Islam of die ou Japannese idee dat sy klakkeloos al swyende sy wil uitvoer nie.  Bybels is sy nie onder sy hak nie, ook nie geïgnoreer of onderdruk nie.  Sy staan in teendeel volwaardig langs haar man in die uitvoering van hul skeppingsopdrag.  Die man het die verantwoordelikheid om leiding te neem – dus hul betrokke hou met volle aanvaarding en gebruik van hulle talente.  ‘n Goeie leier sal haar gawes en potensiaal ten volle benut [sy is immers sy helper].  Hy sal haar persoonlikheid ten volle laat ontwikkel en dit nie onderdruk nie.  Sy is dalk `n beter rekenkundige as hy, dan sou hy dwaas wees om haar nie daarin te benut nie.  Hy bly egter in laaste instansie verantwoordelik vir beleid en bly ook in voeling.

Daar is ook twee positiewe aspekte wat vermelding eis, naamlik die volgende:

  • Onderwerping beteken beskerming teenoor aanranding van buite – fisies – sowel as emosioneel. Volgens 1 Pet. 3:7 is sy die swakker vat. Sy is nie bedoel om skild van die gesin te wees nie.
  • Teenoor emosionele aanslag van haar kinders. Kinders is geneig om kanse te vat terwyl die pa nie tuis is nie.  Hulle behoort egter duidelik te weet dat sy deur gesag en outoriteit van die vader onderskraag word.  Onhoflikheid, beledigings, minagting van die kinders geensins deur die vader geduld.  Kweek sin vir eerbied, hoflikheid, bedagsaamheid by hulle.  `n Seun tree uiteindelik op teenoor sy vrou soos hy teenoor sy moeder opgetree het.  Ook teenoor geestesaanrandings van buite.
  • Uit I Tim. 2:9-14 blyk dat sy teen misleiding beskerm moet word. Die moeder dra die beeld van sagtheid, toegeeflikheid, toeganklikheid. Daarteenoor is die man meer klinies, rasioneel-bepalend.  Daarom is dit duidelik dat sy nie bedoel is om leerstellings te formuleer of as leiers bo koppe van manne aangestel te word nie.  Man se outoriteit moet dien as wapenskild teen die aanslae van die bose.  Rede teenoor emosies.  Die Man is primêr verantwoordelik vir wat in kerk en huis aangaan.  Daardie las hoort nie op die vrou se skouers nie.  Sy moet vry wees om haar taak te verrig.

6.3.  `n Rein en Godvresende wandel

Onderworpenheid dien as getuienis. In I Pet. 3:1 en 2 lees ons: “Net so moet die julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommiges aan die waarheid ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het”. I Pet. 3:1b anders vertaal: “Al is daar dan ook party van die mans wat nie na God se Woord wil luister nie, kan hulle vir Christus gewen word deur hul vrouens se gedrag. Selfs al help dit nie om daaroor te praat nie, sal hulle sien dat julle gedrag rein en vol eerbied teenoor God is”. Wat is hierdie innerlike skoonheid?  Petrus verklaar dit: Haar skoonheid kom van binne af – uit die hart uit – en dit verdwyn ook nie as die ouderdom kom nie.  `n Sagte en vriendelike geaardheid, dit is volgens God se sienswyse `n baie kosbare versiersel.  Dit is ook die innerlike skoonheid wat gesien kan word by die toegewyde vroue van vroeër wat hulle hele verwagting op God gestel het en na hulle mans geluister het (I Pet. 3:4-5).

Heilige vroue het nog altyd op die innerlike gekonsentreer, hulle was nie modepoppe nie. Hulle het vir ander eerder as vir hulself geleef.  Hulle het op God vertrou en God het hul toewyding geëer.  So ‘n lewe is ‘n lewende voorbeeld wat siele onweerstaanbaar na God toe trek, ook die man en kinders.  In I Tim. 2:9-10 sê Paulus: “So ook moet die vroue hul versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.”  Anders vertaal: “By so `n geleentheid moet die vroue hulle ordentlik aantrek – nie uitspattig nie, maar versigtig. Die beste versiersel vir `n vrou is nie om die aandag te probeer trek met haar haarstyl of goue ornamente of juwele of duur klere nie.  Haar eintlike skoonheid lê in `n mooi karakter wat gesien kan word in alles wat sy doen.  So hoort dit ook by die wat christene is”.

In ons dag word dames se kleredrag dikwels gekenmerk deur uitspattigheid, dikwels onwelvoeglik en adverteer dit die vroulike liggaam vir almal wat oë het. Die vrou is nie geskape om wellustelinge te prikkel nie, maar om Christus uit te straal.  Baie mans is nog ongered a.g.v. vrouens se weiering om God se plan te aanvaar.  Bybelse waarhede word deur voorbeeld oorgedra.  Daarom het God strukture geskep, soos Christus en die gemeente, sowel as man en vrou.  Daar moet dan balans in die huis wees tussen sorgsame, ferme leiding aan die een kant en toegewyde, gehoorsame inskiklikheid aan die ander kant.  Dan word God se heilbrengende waarheid in beeld voorgedra en siele na God getrek.

Niks is meer demoraliserend vir `n man as sy vrou nie die Here vrees nie. Salomo het gesê dat dit beter is op die hoek van die dak as saam met `n twisgierige vrou in dieselfde huis.  Niks breek `n volk vinniger af as wanneer die vrouens sleg is nie.  Vrouens se moraliteit en sedes bepaal `n volk se toekoms.  Salomo het gesê: “`n Goue ring in `n vark se snuit, so is `n vrou wat mooi is maar sonder beleid.” (Spr. 11:22). `n Godvresende vrou is `n man se grootste bate. Salomo: “`n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos `n verrotting in sy gebeente.” (Spr. 12:4). Sy kan die verwoester se agenda bevorder of sy kan God se plan laat realiseer.

6.4.  Die vrou is lewensmaat vir haar man

Die vrou se eerste verantwoordelikheid voor die Here is egter om haar in die Here aan haar man toe te wy.  Sy behoort die man se sterkste ondersteuner en aanmoediger te wees. Sy kan hom onderskraag om rotsvas te staan, soos die voortrekker vroue by die Drakensberge toe die mans wou omdraai.  Die godvresende vrou is haar man se ruggraat.  Daarom is ook haar verhouding met die Here van die uiterste belang.

In Tit. 2:4-5 word die ouer vroue gemaan om die jonger vroue te leer om hul man en kinders lief te hê (wat beteken dat hulle hulself vir hulle gee), ingetoë te wees, kuis, huislik, goed. Hierdie gee van haarself lê waarskynlik op minstens drie terreine.  (Vgl. ook Spreuke 31:10-31).

  • Die huis moet die plek wees waar die man sy vreugde en rus vind, soos die vrou by hom, in `n ontspanne en toeganklike atmosfeer. So kan die lewensdruk en spanning ontlaai word. Psalm 45:12 sê: “As die koning u skoonheid begeer, want hy is u heer, buig u dan voor hom neer.” Neem weereens Pred. 9:9, Spr.5:18-9, Mal.2:14 en Hooglied hierby en dit drup van heuning!  Dit het ten doel dat die egpaar mekaar behaag, `n kameraadskap wat stewig in die binnekamer saamgebind word en uitloop na buite tot voordeel van elkeen in daardie konteks.
  • Tuisteskepper. Haar primêre taak is om huislikheid te skep (Tit. 2:5). Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?  Dit is die moeder wat die tuisteskepper is, nie die vader nie.  Dit is normaalweg na haar wat die kinders soek as hul ‘n skouer soek om op te huil, wanneer hulle seergekry het.  Dit is na haar wat hul opsien vir hul alledaagse behoeftes en node.  Haar teenwoordigheid tuis skep ‘n vastigheid vir haar kinders.  Dit is vir hul ‘n anker om net te weet ma is daar! beide vir die kleintjies tuis sowel as die by die skool.  Baie maal dan lyk dit of hul uithou net kon hou totdat hul die huis gehaal het, dan breek die hartseer los.  Netso skep sy vir haar man ‘n hawe om by tuis te kom, waarna hy so uitsien dat hy nie kan wag om tuis te wees nie.
  • Waarde kommunikeerder. Dit is verder grootliks die moeder se taak om die godsdiens, morele waardes, sedes en alles wat saakmaak, wat sy en haar man deel en beoefen, aan die kinders oor te dra. Ons praat in die volksmond van dit wat aan “moeders knie” geleer is.  Daar is geen plaasvervanger vir die moeder in hierdie taak nie.  Ongelukkig dink die wêreld anders hieroor.  Baie reken dis ‘n verkwisting van talent en intelligensie dat ‘n moeder tuis bly en kinders grootmaak.  Hulle skat dit so gering dat hul dink dat dit ‘n bediende se taak is.  Niks kan verder van die waarheid wees nie.  Ter wille van die saak van God sowel as vir ‘n volk is juis die beste breinkrag en bekwaamheid nodig om in die volk en kerk van môre te belê.

Egpaar moet ook vir mekaar intree by God om elk sy/haar taak tot God se bevrediging uit te voer.

Die vrou moet dus haar man voltooi, haar aan hom onderwerp in die Here, `n rein en godvresende lewe lei en `n lewensmaat vir haar man wees.

Samevatting: God wil dat u gelukkig sal wees.  Die Satan probeer dit met al die mag tot sy beskikking verydel.  Daarom is dit noodsaaklik dat u elkeen u plek sal volstaan en uself sal onderwerp en inskakel in die strukture wat God daargestel het. Dit ter wille van uself, en ter wille van die wat u voor verantwoordelik is.

U sal elkeen self hand aan die ploeg moet slaan en begin om in u konteks en u omgewing `n verskil te maak. Dit gaan nie help om vir ander te wag om dit vir u te doen nie, niemand gaan nie.  Selfs die Here gaan u net ondersteun as u voor Hom buig en u persoonlike verantwoordelikheid opneem en begin.

Die lewe is te kort om nie skouer aan die wiel te sit nie. Wat gaan u aan die einde van u lewe op terugkyk?  Ons moet ons nie besig hou met dinge wat minder belangrik is nie.  Besluit vandag voor die Here dat u met sy hulp en die in staatstelling van die Heilige Gees `n verskil gaan maak in u konteks, beide deur leiding en onderwerping.  Neem leiding, neem inisiatief en onderwerp u aan God se sorgsame voorsiening aan elke mens tot toerusting vir u taak en verantwoordelikheid.  Die Here help u.

[1] Janson, M. 1996. Onderdanigheid in die moderne huwelik Ef. 5:21-6:4. In: Praktiese Teologie in Suid-Afrika.         Vol 11 (2).  Pretoria: UP Drukkers. p. 140-149.

[2] Oppas tog maar vir geldmaak skemas wat buite die skeppingsordening van werk vir `n inkomste val. Spr. 13:11 sê: “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.”

[3] Daar is `n afsonderlike studie/lesing oor die tiendes beskikbaar.

[4] MacArthur, J. (Jnr.). The Fulfilled Family: Study Notes Eph. 5:21-6:4. Panorama City: Word of Grace Communications, 1985

[5] Dr. Dean Ornish, “How Love Heals” in die “Readers Digest”, September 1999.

[6] Dobson, JC. 1982. Straight Talk to Men and their wives.  London: Hodder and Stoughton. p. 14-15.

BELANGRIKE UITNODIGING

AS U JOU LEWE VIR JESUS CHRISTUS WIL GEE KONTAK ASSEBLIEF VIR ONS.

DAAR IS HULP TE VINDE.

DAAR IS MENSE WAT OMGEE VIR U.

KONTAK : PASTOOR DE WET EN LYRETTE  LODEWYK

SIEN KONTAK BESONDERHEDE BY VOORBLAD ONDER KONTAK ONS

 

 

 

 

 

DIE BEDIENING STREEF DAARNA OM DIE PASSIE VAN CHRISTUS VIR MENSE TE HE